Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
Die Afrikaanse Rassebeleid en Die Skrif :Website Builder
Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid :Openbaringslig op die Apartheidsvraagstuk :Verwysings en Notas
Openbaringslig op die Apartheidsvraagstuk

Openbaringslig op die Apartheidsvraagstuk

deur prof. dr. S, du Toit. (Oorgeneem uit Koers, Aug. 1949.)

A. INLEIDING.

Dit is dringend noodsaaklik dat ons apartheidsbeleid aan die Skrif getoets word. Hier lê ons hoogste norm en as ons beleid hiermee nie in harmonie is nie, moet dit dienooreenkomstig gewysig word. As ons beleid in stryd is met die Ordinansies van God kan dit geen seën bring nie. Ons Afrikaanse volk bewandel tussen die volkere van die wêreld 'n eensame pad. Daarom klem die noodsaaklikheid van 'n deeglike fundering van ons beleid des te meer.

B. UITGANGSPUNT.

Vir elke saak geld algemene Skriftuurlike beginsels wat orals en altyd geldig is. Maar daar is ook beginsels wat in verskillende tye en op verskillende plekke verskillend toegepas sal word.

In Suid Afrika het histories 'n sekere posisie ontwikkel onder lei ding van die Voorsienigheid van God. Daarby moet onthou word dat die beleid van die Afrikaner en die wording van die Afrikaanse volk nie gebore is uit 'n “laissez faire"~beleid nie, maar berus op 'n weloorwoë standpunt, gegrond op die Afrikaner se verklaring van die Skrif.

Ons wil dus nie op die Skrif alleen let nie, maar op Skrif en Historie. Ook in die geskiedenis sien ons die “vlammende Skrif van die Heilige God" (Groen van Prinsterer.) Die geskiedenis is nooit normatief nie maar as die historiese proses duidelik 'n Godgewilde proses blyk te wees in ooreenstemming met Sy woord, moet daarmee terdeë rekening gehou word, hoewel die Skrif self die laaste hof van appél bly. Die Skrif moet ook vir die toekomstige ontwikkeling die lyne verder trek.

C. DIE VRAAGSTUK WAARVOOR ONS STAAN.

Voordat ons die vraagstuk nader aandui, moet eers goed onderskei word tussen ras en volk.

RASSE . Gewoonlik word drie hoofrasse onderskei:

1. Die Europide of blanke hoofras - word hoofsaaklik in Europa (en Amerika) gevind

2. Die swart hoofras - hoofsaaklik in Afrika en gedeeltes van Asië, bv. die hoogland van Dekkan en Noord-Ceylon

3. Die geel hoofras - hoofsaaklik in Asië, veral langs die Noordrand van die bewoonde Asië (vgl. dr. F. G. Badenhorst, Die Rassevraagstuk, bl. 20 e.v.).

Elkeen van die drie hoofrasse kan weer in verskillende onderrasse verdeel word. Die blanke inwoners van Europa kan bv. weer verdeel word in die Noordse (Skandinawiese lande, Noord-Duitsland en Holland), die Alpynse (die Slawiese volke en die tipiese bewoners van Switserland en Sentraal-Frankryk is hiervan die kenmerkende verteenwoordigers) en die Mediterraanse tipes (die bewoners van die lande om die Middellandse See). Die Afrikaanse volk het in sy bloedsamestelling iets van elkeen van hierdie onderrasse - die hoofstroom is egter Noords. In elk geval het by ons dus vermenging van onderrasse binne die Europide-hoofras plaasgevind.

VOLK. Binne dieselfde hoofras of onderras kan daar verskillende volke wees. Verskillende definisies van 'n volk word gegee. Dit is genoegsaam as ons wys op die bestaan van 'n Nederlandse, 'n Franse, 'n Duitse, 'n Afrikaanse volk. 'n Volk het 'n sekere identiteit, 'n persoonlikheid en tot die vorming van 'n volk dra in wisselende sterkte by: 'n gemeenskaplike land, bloedsband, kultuur, godsdiens, taal. In Suid Afrika het ons rassevraagstukke en volksvraagstukke.

Die Afrikaanse volk staan in die eerste plek teenoor die Engelse bevolkingsdeel wat van dieselfde hoofras en tot 'n groot mate ook van dieselfde onderras is (die Noordse of Teutoonse). Hoe moet die Afrikaner teenoor die Engelse staan?

Verder is hier die Joodse vraagstuk. Die Jode vorm volgens prof. Barge en Steinmetz nie 'n afsonderlike ras nie. Die grondslag van die Joodse tipe word gevorm deur 'n kruising van die Oriëntalide en die Armenide (aangehaal deur Badenhorst, a.w., bl. 31). In elk geval behoort die Jode hoofsaaklik tot dieselfde hoofras as die Afrikaner, nl. die Europide, hoewel daar die verskil is tussen die Semitiese en die Ariese tipe. Hoe moet die Afrikaner teenoor die Jode staan?

In die geval van die Jode kruis rassevraagstukke en volksvraagstukke mekaar gedeeltelik. In die geval van Engelse en Jode het ons egter te doen met blanke rasse.

In die geval van die Indiërs het ons te doen met 'n ras wat aan ons verwant is (die Indide is 'n onderras van die Europese hoofras) maar wat deel vorm van 'n aparte volk en van 'n ander kleur is.

Die naturellevraagstuk verskil hierin van die Indiese dat ons hier te doen het met 'n afsonderlike hoofras hoewel daar kleurverwantskap tussen naturel en Indiër is. Dan is daar ook die verskil dat die Indiërs spruit uit 'n volk met 'n eeue-oue kultuur, terwyl die naturel in ons land kultureel laag staan behalwe insover dit sy taal betref. Die naturel staan egter die verste van die Afrikaner af, te midde van die verskillende rasse en volke in Suid Afrika.

Hoe moet die Afrikaner teenoor die naturel staan? Hierdie laaste twee vraagstukke is vir ons die mees nypende met die oog op die getalle-oorwig van Indiër en Naturel en met die oog op liberalistiese en kommunistiese propaganda wat geen onderskeidinge wil handhaaf nie, maar wil nivelleer. Ons moet met nadruk verklaar dat dit by ons in Suid Afrika nie alleen gaan om 'n kleurkwessie nie, hoewel die kleurvraagstuk besonderlik geprononseerd is omdat dit ons grootste probleem bied. Daarom handel hierdie artikel uitsluitlik hieroor.

D. DIE HISTORIESE ONTWIKKELING.

Onder Gods voorsienige leiding is hier vanaf die begin van die agttiende eeu 'n nuwe nasie gebore, die Afrikaanse, wat nog altyd sy identiteit behou het, hoewel Engelse wat hul lot met die volk ingewerp het, geassimileer is en selfs mense van Joodse afkoms wat die godsdiens en die tradisies van die Afrikaner aanvaar. Hierteen het die Afrikaner nooit beswaar gehad nie.

Van vermenging met die gekleurde rasse was die Afrikaner egter sedert sy volkswording nog altyd afkerig in teenstelling met liberaliste wat daarin geen beswaar gesien het nie.

Voordat die Afrikanervolk sy beslag gekry het, d.w.s. in die eerste dae van die volksplanting aan die Kaap, het vermenging tussen blank en swart nogal dikwels voorgekom (vgl. C. W. Prinsloo in “Rassebakens", ongedateer, bl. 6 en 7).

Vandat die Afrikaner egter homself bewus geword het van 'n eie nasieskap, het die afkeer teen vermenging met die gekleurde bevolking 'n algemene reël geword. Die Voortrekkers sou die beleid voortset. Merkwaardig is wat Preller van hulle sê: “Die opvatting van die Voortrekkers was op geen wetenskaplike gronde gebaseer nie. Dit was veel eer 'n ingeskape, byna instinktiewe weersin wat opgegroei het uit hulle waarneming van die degenerasie - gevolge van bloedvermenging. Dit was die vrug van 'n sterke rassebewussyn, en 'n gevoel van die noodsaaklikheid om hulle bloed suiwer te bewaar, op dieselfde wyse soos hulle 'n rasdier nie blootgestel het aan dis ontaarding wat kontak met 'n laere ras teweegbring. Maar dit is wel opmerklik hoe 'n trage wetenskap hulle opvatting gaandeweg bevestig het." (Andries Pretorius, bl. 157).

Die beginsel van differensiasie was nie gebaseer op die velkleur nie, maar op die hele lewensinhoud wat agter die velkleur gestaan het, 'n wesenlike en ernstige verskil wat betref beskawingspeil en lewensbeskouing - aldus C. W. Prinsloo in “Rassebakens".)

Die Afrikaner het besef dat hy op 'n wonderlike wyse tot 'n nasie gebore is en dat hierdie proses hom nie weer sal herhaal nie. Hy het in die loop van sy geskiedenis 'n roepingsbewussyn ontwikkel. Hy het besef dat hy die draer van 'n Christelike beskawing aan die Suidpunt van Afrika moes wees en was oortuig dat dit alleen kon gebeur as hy sy identiteit bewaar. “Gelykstelling en weifeling bring volgens hom saamwoning; saamwoning bring bloedvermenging; bloedvermenging bring degenerasie en ondergang. Dit is sulke gevolge wat die Voortrekkers wou vermy." (Prof. H. B. Thom in 'n toespraak voor die A.N.S.Kongres, Junie 1938). Die Voortrekker het geleef in en uit die Bybel en daarop was sy lewensbeskouing gebaseer. Hoewel die Afrikaner dus assimileerbare elemente in sy bloedsamestelling opgeneem het, staan hy vierkantig teen vermenging met die inheemse rasse en met die Indiër. Daarom bepleit hy vandag nog apartheid. Die vraag is nou of die Skrif (en die geskiedenis) sy optrede regverdig.

 

E. SKRIFTUURLIKE BEGINSELS.


I. Algemene Beginsels.

INLEIDING. Dit is in die eerste plek noodsaaklik dat ons goed vashou aan die beginsel dat die hele Skrifverband moet spreek en nie net enkele tekste nie. Daar sal geen enkele teks gevind kan word, waarop die afskaffing van slawerny of van hondewedrenne gebaseer kan word nie. Tog vloei dit voort uit die hele gedagte van die openbaring. 'n Erkende reël van gesonde Skrifverklaring eis dat die Skrif as een geheel gesien sal word.

Hierdie beginsel moet ons gedurig voor oë hou.

1. Die menslike geslag is 'n eenheid.

Uit een ouerpaar is die hele menslike geslag gebore, so dat Paulus in Handelinge 17:26 kan sê dat alle mense uit een bloed voortgekom het. Bloed is dus nie 'n skeidende faktor nie, maar juis 'n verbindende. In die naturel se are bruis per slot van rekening dieselfde bloed as in die van ons. Bloed alleen kan derhalwe geen regverdiging vir ons rassebeleid gee nie. Dit moet inteendeel 'n gevoel van simpatie opwek.

2. God is die groot Skeidingmaker.

Hoewel God se skepping 'n eenheid is, soos reeds geblyk het in die geval van die menslike geslag, is dit nie 'n enersheid nie. Die geskape dinge kom nie deurmekaar in aansyn nie, maar elkeen in sy eie orde. God maak skeiding tussen lig en duisternis (Génesis 1:4) tussen waters en waters (Génesis 1:6), tussen droë grond en water (Génesis 1:9, 10), tussen dag en nag (Génesis 1:18). Die lewende wesens kom te voorskyn volgens hulle soorte (Génesis 1:21). Ook die mens is 'n eiesoortige wese (Génesis 1:26, 27). God wil dus differensiasie in sy skepping. Dit blyk ook uit die volgende punt.

3. God het die ontstaan en bestaan van aparte volke gewil.

Uit een bloed het God al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het..." (Handelinge 17:26). Hier het ons 'n ondubbelsinnige en duidelike uitspraak. As liberaliste hul ideaal verwerklik kon sien sou oor die hele wêreld geen differensiasie van volke gewees het nie, maar 'n doodse eenvormigheid. Dieselfde gedagte word uitgespreek in Deuteronómium 32:8.

Die opdrag by die skepping: vul die aarde, hou in die gedagte van trek en met trek gaan gewoonlik nasiewording gepaard. Na die sondvloed het die mensdom geweier om aan hierdie opdrag gehoor te gee. “Daar is hulle nou een volk en het almal een taal". (Génesis 11:6). Hierdie imperialistiese gedagte van die nivellering van alle verskille tussen volke word deur die groot Skeidingmaker op gewelddadige wyse versteur by die toringbou van Babel (Génesis 11:7 en 8). Die verstrooiing oor die hele aarde bring vanself ook differensiasie mee.

Die verskillende nasies sal daar wees tot aan die voleinding. Volgens die profetiese rede van Christus sal aan die einde van die dae “die een nasie teen die ander opstaan." (Matthéüs 24:7). Christus het sy gelowiges gekoop en sal hulle nog koop “uit elke stam en taal en volk en nasie." (Openbaring 5:9). Die nasies van die wat gered word sal in die lig wandel wat uitgaan van God en die Lam in die nuwe Jerusalem en die heerlikheid van die nasies sal daarin gebring word. (Openbaring 21:24, 26).

Hoewel daar in die geskiedenis soms vermenging van dele van volke met dele van ander volke plaasgevind het, waar deur nuwe nasies ontstaan het, en hoewel hierin ook die leiding van Gods Voorsienigheid erken moet word mag ons nie aanneem dat dit altyd die toets van Gods wet kon deurstaan nie.

Die Skrif toon nie altyd met soveel woorde aan dat een van die Ordinansies van God oortree word nie (vgl. bv. die poligamie by aartsvaders, asook by Dawid en Salomo) maar die droewige gevolge laat ons sien waartoe wetsoortreding lei. So is dit ook in die geval waar die mens eiewillig handel. Ons kan nie die wondere weë van Gods Voorsienigheid naspeur nie. Maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders en by elke geval van 'n huwelik is dit nie 'n saak van die persoonlike willekeur nie. Daar moet rekening gehou word met die familie, met godsdienstige oortuiging en volksverband. Die man en vrou moet bymekaar pas (Génesis 2:18). Hoe wyer die kloof ten opsigte van godsdienstige, nasionale en rasseverskille, hoe kleiner die moontlikheid van 'n gelukkige huwelik.

Die Skrif spreek nie van rasse nie. Maar waar ons nou die begrip ken en waar ons weet dat verskille tussen nasies meestal kleiner is as die tussen rasse, geld wat van nasies gesê is a fortiori van rasse. Hoe die diepgaande verskille tussen die verskillende hoofrasse, en gedeeltelik ook tussen onderrasse, tot stand gekom het, bly 'n verborgenheid. Dieselfde geld van die kleurverskil. Dat die swart kleur kom vanweë die vervloeking van Gam, is 'n legende. Trouens, dit is Kánaän wat vervloek word! Wel weet die Bybelskrywers dat die Kusiet sy swart vel net so min kan verander as die luiperd sy vlekke. Dit is dus 'n diep ingrypende verskil wat hom van die blanke skei. As God die verskille tussen nasies handhaaf, ongetwyfeld ook die tussen rasse. Dit is ook merkwaardig dat die hoofrasse dwarsdeur die eeue hulle identiteit bewaar het. Bastardisering vind gewoonlik plaas waar die indiwidue wat vermeng fisies en psigies ver van mekaar staan. As Hollander, Fransman en Duitser vermeng, d.w.s. volke wat baie naby aan mekaar is, ontstaan die Afrikaanse volk, 'n nuwe en vooruitstrewende tipe. As egter blanke en naturel in Suid Afrika vermeng, ontstaan die bastergeslag wat Sarah Gertrude Millin “Gods Stepchildren" noem, erbarmlike wesens wat nergens tuis is nie, hoewel hulle ook in sekere rigtings bekwaamhede het. Die oorsake van hierdie verskil word in die volgende paragraaf uiteengesit.

4. Die gevolg van die sonde aksentueer die verskille tussen rasse en volke.

Op die aarde rus 'n goddelike vervloeking (Génesis 3:17). Dit word ook gesien in die volkewêreld. As gevolg van sondige vermenging tussen gelowiges en ongelowiges kom die sondvloed en word weer 'n begin gemaak met een mensepaar. As die sonde na die splitsing in volke weer toeneem, sonder die Here in Abram een volk af vir 'n besondere diens, terwyl hy toelaat dat al die volke in hulle eie weë wandel. (Handelinge 14:16). Paulus spreek ook van die tye van die onkunde (Handelinge 17:30).

Hoewel in Gods skeppingswerk ryke ontplooiingsmoontlikhede gelê is en die volkere ook afgesien van die sonde, elk een 'n identiteit sou gehad het, word die verskille in die tye van onkunde meer geaksentueer, soos die boek van die geskiedenis bewys. God laat Hom (Handelinge 14:17) aan die volke nie onbetuig nie (daar is sy algemene openbaring) en Hy doen goed van die hemel deur reën en vrugbare tye te gee, asook ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul (sy algemene genade). Tog weet ons dat sommige volke oneindig hoër staan in kultuur as ander. Vgl. bv. die Grieke en die Romeine met die Boesmans en Hottentotte. Dit is of die vloek sommige swaarder tref as ander. As gevolg van Noag se vervloeking sal Kánaän kneg word. Hieruit volg nie dat enige ras of volk die reg het om ander rasse of volke te verkneg nie, maar die geskiedenis leer tog dat hoër ontwikkelde volke die leiding neem en laer ontwikkeldes soms verplig is terwille van eie bestaan om in 'n diensverhouding tot ander te staan. Hierin is opsigself niks vernederends nie, veral nadat slawerny afgeskaf is en die kontraktuele verband in swang gekom het.

Hieruit volg ook nie dat een of ander volk gedoem is om vir altyd in 'n diensverhouding te staan nie. Die beginsel van die Christelike liefde eis dat aan elkeen die moontlikheid gegun moet word om sy gawes en talente te ontplooi. Die volk wat meer bevoorreg is, mag hom nie daarop beroem nie. Herrenvolkisme is uit die bose! Wat ons het, is Gods gawe. Hieruit volg die voogdyskapsbeginsel waaroor later gehandel word. Elkeen is geroepe om sy eie gawes en talente ten nutte van ander aan te wend. En die voogdyskap duur net solank as die beskermeling onmondig is.

5. Die mensheid het 'n kultuurtaak.

Die mens is by sy skepping in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak . Dit word genoem sy kultuurtaak. Hierdie taak gaan na die sondeval deur, hoewel nou met veel meer moeite (Génesis 3:17-19). Om sy taak te kan vervul moes ook díe mense se geestesvermoëns ontwikkel. Uit die feit dat alle mense uit Gods Hand voortgekom het, volg dat dit Gods Wil is dat almal na hoër dinge sal strewe. Aangesien verder elke mens en ook elke volk 'n roeping het teenoor ander, volg dat meer begaafde volke ander met hul talente en gawes moet aanhelp. Die Kainsgees word deur die Skrif afgekeur. Die wêreld wat aan die Here toebehoort kan nie doeltreffend gekultiveer word as daar soveel volke en mense is wat die aarde onproduktief maak en hul hele omgewing aftrek na 'n laer niveau nie. Afgesien van die feit dat geen enkele volk of ras die reg het om 'n ander volk of ras in gedurige onderhorigheid te hou nie, maar verplig is om hulle die geleentheid te gee tot ontplooiing, is dit ook nie profytlik vir die eie volk of ras om omring te wees van barbare nie. Wie 'n ander onder moet hou, kan self nie styg nie.

Gelet op die groot verskille tussen rasse wat kultuur-niveau betref, sou logies uit die kultuurtaak ook voortvloei dat wat gedurende eeue moeisaam deur een volk verwerf is nie in 'n paar dekades deur 'n barbaarse ras geassimileer kan word nie. Daarvoor is 'n pedagogiese proses nodig. Hierdie les is deur die liberalis in ons land nog nie geleer nie.

Waar 'n hoogontwikkelde ras of volk sou vermeng met 'n laagstaande, beteken sodanige vermenging dat die Kultuur-niveau omlaag getrek word, soos die geskiedenis duidelik bewys het, veral in Roomse lande waar die rassevermenging hoogty vier. Dit is sonde teen Gods Ordinansie.

6. Aan volkere wat die Here vrees is 'n sendingstaak opgedra.

'n Veel hoër roeping as om die Kultuur-niveau te verhoog, is daarin geleë dat volkere, wat nie meer leef in die tyd van onkunde nie, maar tot wie die volle lig van die openbaring van God gekom het, hierdie lig sal uitdra. Vgl. die sendingsbevel van Christus wat alle volke geld. (Matthéüs 28:19).

In hierdie verband het Israel 'n besondere betekenis gehad. Aan hulle is die woorde van God toevertrou. Hulle is afgesonder as verbondsvolk uit wie die Christus gebore sou word in die volheid van die tyd. Daarom moes hulle hul identiteit met heilige jaloersheid bewaak. (Vandag nog behou die Joodse volk sy identiteit hoewel hy oor die hele aarde versprei is). Vandaar dat vermenging met die heidense volke so nadruklik verbied word. Vgl. bv. Deuteronómium 7:2-4; Nehemía 13:23. Hoofsaak is ongetwyfeld dat Israel sy identiteit sal bewaar vanweë sy besondere roeping.

Daarom kan wat vir Israel geld nie sonder meer op ander volke toegepas word nie. Waarmee egter nie gesê is dat die verordeninge van God t.o.v. Israel vir ons hoegenaamd geen betekenis het nie. Wat met Israel gebeur het, is tot ons waarskuwing beskrywe (1 Korinthiërs 10:11). Ten minste kan ons dit leer dat vermenging van 'n Christelike volk met 'n heidense ook al hieroor veroordeel is dat dit tot nadeel is van die ware godsdiens. Net soos die laere volk aftrek na sy kultuur-niveau so die heidense na die rigting van sy afgodery. Die teenoorgestelde dus van die sendingsroeping wat o.m. in Jesaja 15 en in die boek Jona so duidelik uitgespreek word.

Maar verder, die lewe laat hom nie in lokette indeel nie. Israel se roeping t.o.v. die besondere openbaring kan nie geïsoleer word van sy volksbestaan nie. Hy was ook 'n volk met 'n eie kultuur en sy ondergang as volk sou beteken het die triomf van Satan. Hierdie feit het vir ons Afrikaanse volk 'n besondere betekenis.

In die algemeen kan gesê word dat 'n volk nie sy sendingsroeping teenoor 'n barbaarse heidense volk kan vervul as hy met daardie volk gaan vermeng nie.

Hierdie punt bring ons veral tot die saak van voogdyskap. Waar 'n volk hoër in kultuur staan, kan hy vir 'n ander al veel beteken, maar oneindig meer as hy aan daardie volk die lig van die evangelie kan bring. En wee hom as hy dit nie doen nie.

Besef ons Afrikaners van die teenwoordige geslag dit nog ? Ons kla dat die naturelle so versleg. Waar is die ordentlike Christelike outa's en aia's van ons voorgeslagte, wesens wat met respek behandel moes word deur die Afrikaanse kind? Waarom is die naturel na soveel dekades van ons beskawing soveel slegter? Is dit te danke aan liberalistiese invloede en in hoever het ons skuld? Behandel ons ons diensbodes op 'n Christelike wyse of probeer ons net soveel uit hul kry as wat ons kan? Hierdie vrae moet elkeen vir homself beantwoord.

7. In Christus kom 'n hoëre eenheid tot stand, wat egter die nasionale e.a. verskille in die gewone lewe uitwis nie.

Belangrik is hier veral Kolossense 3:11 . . . waar daar nie Griek of Jood, . . . barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie" . . . ", en Galásiërs 3:28: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus."

Liberaliste meen dat hierdie tekste die fondament onder die apartheidsbeleid uitslaan. Wat wil die apostel egter hier sê? Dat die evangelie nie prerogatief van een of ander volk is nie; dat die ontwikkelde Griek in hierdie opsig geen voorkeur bo die barbaar, of die man bo die vrou het nie. Die gelowige naturel is ook met ons een in Christus. Deur hierdie geestelike eenheid word egter die natuurlike skeidinge nie opgehef nie, soos die liberalis wil. Dan sou die onderskeid tussen man en vrou in die sosiale en kerklike lewe ook uitgewis moet word en dit is juis waarteen Paulus optrek (vgl. 1 Korinthiërs 11). Die geskiedenis toon verder duidelik dat daar vandag nog Grieke en barbare is! Wat die hoër geestelike eenheid wel doen is dat dit die selfsug en die Herrenvolkmentaliteit in die verhouding tussen volke beteuel. As twee volke met mekaar die Christelike geloof gemeen het, sal dit bevorderlik wees tot onderlinge vrede.

Moet die organiese eenheid in Christus noodwendig ook in die geïnstitueerde kerklike lewe tot uiting kom? D.w.s. as daar segregasie op alle terreine van staat en maatskappy toegepas word moet dit noodwendig ook in die kerklike lewe plaasvind? Hieroor bestaan verskil onder Christene. Daar word bv. op gewys dat met die Pinksterdag mense van verskillende rasse teenwoordig was, maar dat daar geen sprake is van aparte kerke nie. Daar word egter vergeet dat die apostels orals gemeentes stig en wel in omgewinge waar homogene mensegroepe woon. Daar is altans nie veel verskil wat taal en gewoontes betref nie. Bowedien, by die Pinksterfees bly daar die verskillende tale. Waar verskillende rasse en volke deurmekaar woon, sal die taalverskil al instituering in verskillende gemeentes wenslik maak. Selfs die Engelsman en Afrikaner sal nie in dieselfde kerkgebou kan en wil vergader nie. Afgesien van die taalverskil is die hele wyse van die Godsverering anders. Hoeveel te meer geld dit nie van die Bantu ten opsigte van Engelsman en Afrikaner nie! Hy moet die Evangelie in sy eie taal hoor van sy eie mense. Dit is vir ons duidelik dat aparte instituering in die beste belang van almal is en bevorderlik vir die saak van Christus. Wat nie uitsluit dat daar onderlinge bande kan en moet wees nie.

II. Die besondere toepassing van sekere beginsels op Suid-Afrikaanse toestande.

In Suid Afrika het ons 'n geheel enige posisie. Hier lewe 'n handjievol blankes in 'n swart see. Daar is vir ons in die eerste plek die saak van voortbestaan as nasie. Dit mag nie die enigste motief wees en is ook nie die vernaamste nie, maar dit is 'n beginsel wat deur die Skrif geregverdig word en wat ook in die natuur ingegrif staan. Die moederdier word boosaardig as dit gaan om haar kleintjies. Ons het 'n plig teenoor die nageslag, ons moet vir hulle 'n tuiste skep. Met 'n heilige erns moet vir die voortbestaan van ons volk geywer word.

In hierdie opsig verkeer die Afrikaner nog weer in 'n ander posisie as sy Engelse medeburger. Dit is die Afrikaner se enigste vaderland, bewoonbaar gemaak deur sy eie bloed en trane. Dan, die Afrikaanse volk is draer van 'n besondere geestelike erfenis, die Protestants-Gereformeerde belydenis. Die Liberalis kan uitwissing van rassegrense propageer. Dit is sy verklaring van die een in Christus. Maar die Calvinis besef dat as die Boerevolk ondergaan, dit uit is met die Christelike beskawing in hierdie land en dat ook die kerk sal verdwyn. Die ervaring in Roomse lande bewys dit. Aangesien die Roomse vermenging voorstaan het dit in lande onder hulle beheer op groot skaal toegeneem en die resultaat is 'n neertrekking van die beskawingspeil. In die Roomse kerk waar die priester feitlik alles doen kan daar nog iets van die uitoefening van die godsdiens teregkom, maar in 'n Protestantse land moet dit noodwendig tot ondergang lei.

Hierdie roepingsbesef maak die Afrikaner jaloers op sy identiteit, selfs teenoor die Engelsman. Sy wit vel en sy identiteit as Afrikaner is vir hom nie slegs 'n saak van die biologie nie, maar dis 'n geloof saak .

Kenmerkend van die verbondsgedagte wat in die Geref. geloofsleer so 'n belangrike rol speel is dat God in sy herskeppingswerk die natuurlike verordeninge van huisgesin, geslag, familie, volk, nie vernietig nie, maar heilig in sy diens . Bloed roem dus nie in bloed nie, maar die bloed roem in die belydenis en in verbondsaanvaarding. So kry die saak van rasse-apartheid 'n verhewe betekenis. As die Afrikaner moet ondergaan, dan moet dit sy lot wees en nie sy skuld nie!


SLOT. Afrika is genoem: 'n swart moeras. Verskillende beskawings het al in hierdie moeras verdwyn. Wat sal die lot wees van die blanke beskawing aan die Suidpunt van die donker kontinent? Sal die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly? Die toekoms lê nie in ons hand nie. Maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders. Ons leuse moet wees: Siende in die gebod en blind vir die toekoms!

 

 

Laaste keer geredigeer: 2008 / Geplaas: 31 Maart 2017